Na ‘n beskeie begin as deel van die Oudtshoorn Atletiek Vakansiebyeenkoms, het die straatmyl-idee gegroei tot ‘n Straatmyl-reeks wat gedurende die Desembervakansie in drie wedlope in drie Suid-Kaapse dorpe aangebied word. Die uniekheid van hierdie reeks lê reeds in die feit dat elke dorp sy unieke straatmyl-identiteit behou maar tog deel vorm van die Eden Straatmylreeks deurdat die Grand Prix-wenner oor aldrie byeenkomste bepaal word!
Die eerste been van die reeks word op Oudtshoorn aangebied en staan bekend as die KLEIN KAROO STRAATMYL. Dit vind plaas in Baron van Reedestraat op Woensdag 16 Desember 2015. Die tweede been vind in George [Saasveld] plaas en word ondersteun deur die NELSON MANDELA METROPOOL UNIVERSITEIT [George Kampus] op Saterdag 19 Desember 2015 . Die derde been vind op 23 Desember 2015 in Hartenbos plaas as deel van die nou reeds bekende DIE BURGER-ATKV STRAATMYL in Paardekraalweg, Hartenbos.
Vanjaar het die Vrystaatse Universiteit [Kovsies] toegetree en borg hulle die Grand Prix deel van die reeks. Die mans- en damesatleet wat die meeste punte oor die drie bene versamel, kan met die groot prys wegstap. Die organiseerders beoog om van Suid-Afrika se top atlete hierheen te lok. Verlede jaar het Johan Cronje die Klein Karoo Straatmyl in ‘n droommyl tyd van 3:57,7 gewen!
As deel van die reeks gaan die top-atlete ook ontwikkelingsklinieke op die verskillende dorpe aanbied. Dit bied ook die geleentheid vir atletiekklubs om oefenkampe te hou in die skilderagtige Klein Karoo en Tuinroete. Wedlope vir 0/13 [Laerskole seuns en meisies], DAMES OPE [junior dames 0/20], dames ope en dames veterane [+40]] en MANS OPE [junior mans [0/20], mans ope en mans veterane [+40]] word aangebied. Pryse vir die eerste drie plekke in elke wedloop is op die spel.
Hou asseblief die media dop vir verdere ontwikkeling. Daar sal binnekort ‘n doelgerigte webtuiste en facebookblad in bekendgestel word!